OM DIE SWART HOND IN JOU NEK TE VOEL BLAAS:
Bipolêre versteuring ruïneer lewes, verpletter selfbeeld en dryf baie na selfmoord. Maar dit hoef nie so te wees nie. Wanneer jy die regte hulp ontvang is daar hoop. Dit is 'n beheerbare siekte. Ek lei al jare aan die siekte. Ek is reeds op ouderdom van 16 geadiagnoseer met Maniese gemoedsversteuring wat intussen verander is na Bipolêr. Ek is nou 43.
Baie Dokters glo dat daar ook 'n verband tussen Bipolêr en Fibromyalgie bestaan . Of dan ook tussen Fibromyalgie en depressie.
Hier is 'n goeie uiteensetting van presies wat Bipolêr is.
Wat is bipolêre gemoedsiekte?
Volgens prof. Piet Oosthuizen, psigiater en skrywer van die boek Ontsnap van depressie, het die verskillende vorme van bipolêre gemoedsiekte voorheen bekend gestaan as manies-depressiewe siekte. Die mediese term “bipolêre gemoedsiekte” verwys na die twee wisselende “pole” wat die siekte weens chemiese wanbalanse in die brein op die lyer se gemoed veroorsaak: ’n maniese fase en ’n depressiewe fase.
Tot tien jaar gelede nog is geglo dat die toestand slegs sowat een persent van die bevolking affekteer. “Danksy die ontploffing in navorsing oor bipolêre gemoedsiekte die afgelope dekade, weet ons vandag dat dit baie meer algemeen is; niemand is nog heeltemal seker hoe algemeen nie.
Wat ons wel toenemend agterkom, is dat die siekte subtiele variasies het wat nie noodwendig almal by bestaande klassifikasiesisteme inpas nie. Dit het ’n mediese debat oor die aard en variante van die siekte ontketen wat steeds voortwoed,” sê hy.
Vincent van Gogh was seker een van die bekendste persone wat hieraan gely het; nie baie mense weet dat sir Winston Churchill en Kurt Cobain ook die siekte gehad het nie. Bipolêre gemoedsiekte word onderskei in klassifikasies van steuring I en steuring II.
Bipolêre steuring I : Die lyer hieraan moet minstens een maniese episode ervaar soos hieronder beskryf. Een maniese episode is genoeg vir die diagnose, selfs al het die persoon nog nooit ’n depressiewe episode gehad nie. Streng gesproke kan ’n mens dus bipolêr I steuring hê sonder om ooit ʼn depressiewe episode te ondervind.
Dis egter nie ’n algemene verskynsel nie en die meeste mense met bipolêre steuring I ervaar sowel maniese as depressiewe episodes. Die omvang van ’n maniese episode is gewoonlik redelik dramaties; dit gebeur dikwels dat ’n pasiënt in ʼn maniese fase heeltemal kontak met die werklikheid verloor en dinge begin glo wat glad nie waar is nie, soos dat hy die Lotto gewen het, staatspresident is, en dies meer. Dit vereis dan dikwels ook dramatiese ingryping en hospitalisering.
Bipolêre steuring II By hierdie tipe steuring ervaar die persoon hipomaniese episodes én major depressiewe episodes. Die hipomaniese hoogtepunte is nie so erg soos in ’n maniese episode nie, maar die depressiewe episodes is erg genoeg om as major depressiewe episodes gediagnoseer te word. Hierdie toestand is ’n mediese tameletjie omdat dit so moeilik is om te diagnoseer. Mense in ’n hipomaniese fase raak nie psigoties, soos in ’n volle maniese episodekan gebeur nie. Hulle het dikwels eerder grootse idees en ‘n hoë dunk van hulself en hul vermoëns wat nie noodwendig op feite gegrond is nie.
Chemiese wanbalans
Die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) word gekenmerk deur geweldige gemoedskommelings en soms ’n wipplankrit tussen manie en depressie. Dit word teweeg gebring deur óf te min óf te veel van sekere neuro-oordragstowwe in die brein.
Daar is ongeveer 15 biljoen breinselle wat inligting versend deur middel van elektriese en chemiese gekodeerde seine. Elke gedagte en aktiwiteit in jou brein is verbind en herlei boodskappe blitssnel onder mekaar. Die onvoldoende voorsiening van sekere chemikalieë soos serotonien, dopamien en noradrenalien affekteer die neurotransmissie vanaf een breinsel na die volgende.
Hierdie transmissie of boodskappe beïnvloed gedagtes, emosies, denke en optrede – met ander woorde die gemoed, en indien hierdie funksie ontwrig word, ontstaan ’n emosionele of gemoedsteuring wat ’n maniese of depressiewe episode veroorsaak. Volgens die Suid-Afrikaanse bipolêre webtuiste
www.bipolar.co.za manifesteer dit dikwels wanneer mense in hul 20’s of 30’s is.
Dit moet onderskei word van die gewone gevoelens van geluk, hartseer en woede. Bipolêre versteuring is eerder ’n mediese toestand waar die gemoedskommelings uit verhouding is met die stressors in mense se lewe. Dit raak hul gedagtes, gevoelens, fisieke gesondheid, gedrag en funksionering. Dit is niemand se skuld nie en nie weens ’n onstabiele persoonlikheid nie. Dit is eerder weens ’n behandelbare chemiese wanbalans in die brein, word op die webtuiste verduidelik.
Tekens van hipomanie en/of manie
• ’n Ongewone gevoel van optimisme; euforie soms tot op die punt waar die persoon glo hy het ’n spesiale band met God, bekendes of politieke leiers.
• Uiterste irritasie.
• Onrealistiese opvattings oor jou eie vermoëns.
• Min slaap, maar ’n baie energieke gevoel.
• Praat so vinnig dat ander sukkel om by te hou.
• Vinnige vloei van gedagtes van die een na die volgende.
• Onvermoë om te konsentreer en maklik aandagafleibaar.
• Ingeperkte oordeel en impulsiwiteit.
• Hiperaktiwiteit en verhoogde deelname aan ’n verskeidenheid aktiwiteite en ’n magdom nuwe planne.
• Roekelose gedrag sonder om die gevolge te oorweeg soos besteding, dom beleggings en roekelose bestuur.
• Paranoia en vervolgingswaan – verdink byvoorbeeld lewensmaats van ontrouheid.
• Hallusinasies in ernstige gevalle.
Tekens van bipolêre depressie
• ’n Hopelose, hartseer of leë gevoel.
• ’n Verlies van belangstelling in dinge wat jy altyd geniet het.
• Uitputting en ’n verlies van energie.
• Fisiek en intellektueel stadiger.
• Veranderings in eetlus of gewig.
• Te veel of te min slaap.
• Konsentrasie- en geheueprobleme.
• Verlies van libido.
• Gevoelens van selfhaat, skuld of skaamte.
• Gedagtes oor die dood of selfmoord.
Terugval
’n Familielid of vriend van die persoon kan help om die eerste tekens van terugval te identifiseer en te keer dat dit vererger. Dit sluit in:
• Die staking of vermindering van medisynedosisse sonder om ’n dokter te raadpleeg;
• Die neem van dwelms soos kokaïen, alkohol, amfetamien of opiate – dit kan die toestand vererger;
• ’n Ongereelde slaappatroon kan die siekte destabiliseer – te veel slaap kan lei tot depressie en te min tot manie; en
• Uitermatige stres kan lei tot ’n terugval.
Medikasie en jou psigiater
Voel gemaklik om al die aspekte van jou toestand met jou psigiater te bespreek.
• Hou rekord van al die medikasie wat jy neem.
• Vra die psigiater waarvoor elke middel is – dit is jou reg om te weet.
• Vertrou dat daar ’n middel of kombinasie van middels is wat jou kan help.
• Laat die psigiater toe om jou te help om jou medikasie aan te pas as jy ’n slegte episode ervaar.
Jou sielkundige
• Maak seker die persoon is beskikbaar.
• Hy/sy moet jou help om stresfaktore te identifiseer en maniere leer hoe jy dit kan hanteer.
Stay strong
Groete
Angelique